Over het weer op het zuidelijk halfrond, met name Zuid-Afrika, bron: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/D%C3%ADt-is-wat-fout-is-met-die-weer-20100513
Die onverwagte nat somer is dalk aardverhitting se skuld.
Prof. Hannes Rautenbach, hoof van die departement van geografie, geo-informatika en meteorologie aan die Universiteit van Pretoria (UP), is van mening dat onlangse navorsing wat daarop dui dat aardverhitting die El Niño-verskynsel verander, deels kan verklaar hoekom weervoorspellings die afgelope somer so ver verkeerd was.
“Dit is so dat Suid-Afrika tydens ’n El Niño-seisoen dikwels ’n droë somer en selfs droogte ervaar. As onlangse navorsing wat toon dat aardverhitting besig is om El Niño te verander korrek is, dan gaan dit al hoe moeiliker raak om akkurate seisoenale voorspellings te maak,” het Rautenbach gesê.
Die El Niño-verskynsel kom elke drie tot agt jaar voor wanneer see-oppervlaktemperature in die tropiese Stille Oseaan weens ’n stadig bewegende
oseaangolfsiklus rondom Kerstyd aan die kusgebiede van Sentraal-Amerika styg.
Dié styging beïnvloed die res van die planeet se weer en dit het in 1982 en 1990 droogtes in Suid-Afrika veroorsaak.
“Ons somerreën word hoofsaaklik veroorsaak deur vog van die trope af wat in ’n sogenaamde wolkband van die ewenaar af oor Botswana tot in die noordelike, sentrale en oostelike dele van Suid-Afrika afkom,” het Rautenbach gesê.
“Tydens El Niño skuif dié wolkband na die ooste, meer na Mosambiek se kant toe – wat veroorsaak dat die reën ons mis.”
’n Onlangse studie deur dr. Karumuri Ashok van die APEC-klimaatsentrum in Korea en prof. Toshio Yamagata van die Universiteit van Tokio wat verlede jaar in Nature gepubliseer is, dui daarop dat die patrone van die verhitting en verkoeling van seetemperature in die Stille Oseaan, en dus die gepaardgaande atmosferiese uitwerking daarvan, besig is om weens aardverhitting te verander.
Ashok en Yamagata voer aan dat hoewel seetemperature in die Stille Oseaan tydens El Niño gewoonlik naby die kus van Sentraal-Amerika styg, aardverhitting atmosferiese en seetoestande so verander dat seetemperature nou tydens El Niño in die middel van die Stille Oseaan begin styg – en nie soseer naby die kus nie.
Dié verskynsel, wat hulle El Niño Modoki noem, sal volgens hulle die wêreld se weerpatrone op ’n ander manier verander as die gewone El Niño-verskynsel.
Rautenbach het gesê dit is nog onbekend hoe El Niño Modoki die weer in Suid-Afrika kan beïnvloed, maar dat dit moontlik kan verklaar hoekom die land ’n baie nat somer ervaar het.
Ander faktore wat ook met aardverhitting verband hou, soos die styging van see-oppervlaktemperature in die Indiese Oseaan, kon volgens hom ook ’n rol gespeel het.
Me. Hannalee Doubell, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het vroeër vanjaar gesê sterk plaaslike weerstelsels het die tipiese uitwer- king van El Niño oordonder.
Quote selectie