Toch wel een uitzonderlijke situatie daar
'n Wit Kaapse winter
Die Kaapse winter het in alle felheid toegeslaan en sneeu het vir die eerste keer in dekades wydverspreid op berge en selfs in dorpe in die Wes- en Oos-Kaap geval.
Ook buitelandse toeriste wat gedink het hulle gaan ’n sonnige winter in Kaapstad aantref, het ’n sneeubedekte Tafelberg teëgekom, waar die kwik deur die dag nie hoër as 1 °C gestyg het nie.
Bibberende toeriste moes versigtig op die berg loop om nie op sneeu en ys, wat nog plek-plek op die voetpaadjies en tussen plante was, te gly nie.
Kort ná 10:00 het dit weer vir ’n paar minute liggies gesneeu op die berg, wat al die toeriste na die restaurant laat skarrel het vir ’n dak en ’n warm drankie.
Dit is die swaarste sneeu op Tafelberg sedert 2003, het me. Colette van Aswegen, bemarkingsbestuurder van die sweefspoor, gesê.
Van die toeriste het gesê die koue het hulle onkant gevang.
“As ek hoor ‘suid’, dink ek ‘warm’,” het mnr. Michail Podlatsjof van Rusland gesê. “Ek het net kortbroeke en T-hemde gebring. Die warm baadjie wat ek aan het, het ek hier gekoop.”
Die wolke het laag gehang en die uitsig oor die stad en die hawe versper, maar effens weggetrek oor Kampsbaai en Clifton.
Die res van die Wes-Kaapse berge en ander hoogliggende gebiede het ook gister onder sneeu gelê.
Murraysburg het glo vir die eerste keer in 16 jaar in die dorp sneeu gehad.
“So tienuur, elfuur gisteraand (Maandag) was dit grafstil toe die vlokkies val. Dit was só ’n mooi prentjie. Ek het my kleindogter gaan wakker maak om daarna te kyk,” het me. Elma Immelman, ’n inwoner van dié dorp, gesê. “Vanoggend het ek my tuin byna nie herken nie.”
Die sneeu het na verneem word omstreeks 19:00 begin val.
In Willowmore het dit glo in 1978 laas gesneeu soos Maandagnag, het me. Jane Zaayman van die Baviaanskloof-toerismekantoor in dié dorp gesê.
Verskeie bergpasse in die Suid-Kaap wat weens swaar sneeu gesluit was, is gistermiddag weer oopgestel. Dit sluit die Swartbergpas tussen Oudtshoorn en Prins Albert in.
Baie koue toestande word nog vandag oor die provinsie verwag, maar geen sneeu nie, het me. Lynette van Schalkwyk van die weerdiens se kantoor in Kaapstad gesê.
Van môre af kan bergwinde waai en warmer toestande word langs die Weskus en die Wes-Kaapse binneland verwag. Daarom is dit moeilik om te voorspel of die sneeu die naweek nog op die berge gaan lê.
Edit: link van de bron toevoegen lukt niet; daarom maar zo:
Bron: http://www.dieburger.com/Suid-Afrika/Nuus/n-Wit-Kaapse-winter-20100615
Quote selectie